Aljander Blog - Verduistering

Sy het ‘n blinde obsessie met oë. “Jy sien iemand se karakter in sy kyk, my blue-eyed boy”. Was seker verblind deur die liefde toe sy Pa se listige karakter in sy optiese verraaiers moes bespeur het. 

Elke oggend voor die venster doen sy ‘n oogdruppeltango met daardie befaamde spuitbotteltjie wat blinkblou kykers belowe. Dit staan permanent op die kombuis se vensterbank, en ‘n glashelder kiekie in die splinters van my onthou, is daai roetine voor die venster met haar oë wyd oopgesper soos ‘n perd wat slangpis geruik het. 

Helder, skynende oë vir ‘n uitsiglose lewe.

En hier lê sy nou in die hospitaal met verbande om haar kop. Gister se “fratsongeluk”. Ek probeer die “smaail van my smoel vee”, soos Pa my altyd toegesnou het, maar die ironiese grinnik bly pluk aan my mondhoeke. Ek kan vir Safyr Bleu ‘n nuwe slagspreuk stuur: Less bleu, more safyr. 

Oëverblindery in ‘n botteltjie. 

Sy het my nog altyd blindelings opgehemel. In haar oë kon ek niks verkeerd doen nie. Selfs toe ek Milo se babakatjies versuip het, het sy vertel dit was per ongeluk. Haar blindheid het vererger wanneer my ou toppie gesuip was en ons roekeloos rondgepluk het. Hy het altyd met haar begin, ‘n voorspelbare patroon wat sy nie kon insien nie. Waarvan sy nie kon of wou ontsnap nie. Hoe blind was sy nie? Ek was vyf en kon sy boelie-en-moer-resep lees, sy was vyf-en-dertig en kon nie.     Wou nie.

‘n Mens kon altyd dadelik in sy oë sien of dit ‘n Bacchus-en-Thordag sou wees. Hy het by die agterdeur ingekom met sy vals vrolike fluit, ‘n jagter wat sy oorgretige honde naderroep. Hy sou die deur toedonder, Ma aangluur en op my skree om sy skoene uit te trek. Dit was moeilik om die veters los te kry terwyl hy ritmies na my skop en op my vingers probeer trap. 

Die skoorsoekery begin sodra Ma sy dop bring. Eers die beskuldigings en verwyte. Hoe verslons sy is, hoe sy hoereer, hoeke slegte ma sy is. Waansinnige lagbuie tussen die geskel deur. Tussendeur raps hy na haar met die vadoek, met sy vurk, sy lighter. Die lomp rapse bou stadigaan op tot sekuur gemikte houe met sy belt. Die ketel se koord. Sy vuiste. ‘n Bord kos wat ‘n muur of die vloer bevlek saam met my pis en Ma se kots. 

Soms het hy haar kamer toe gesleep. Haar gesig ‘n gapende, klanklose gat, oë smekend op my. Dan het ek nie gesien wat hy doen nie, net gehoor. Maar meesal het hy haar voor my op haar plek sit. As sy nie gehuil of gesmeek het nie, sou hy na my gemik. Dadelik sou sy dan van rat verwissel van smekende pateet na tierende viswyf. Net wat hy wou hê. 

Maar sy het hom nie gelos nie. Ons nie gered nie. Ek moes maar self ‘n plan maak.

Dit was na my en Pa se skietongeluk verlede jaar dat ek begin vassit het. Vas. Soos ‘n rot in ‘n doolhof. Soos ‘n beer in ‘n traliehok. Elke donnerse cliché waaraan jy kan dink. Vasgevang in haar haar versmorende web.

Sewentien, met geen privaatheid of vryheid nie. Daardie blou oë wat elke beweging volg, liefde van my afsmeek, my in gretige bewondering verdrink. Glo alles wat ek sê, wil alles weet, wil alles van my hê. Sy sluip agter my aan, hang voor my kamerdeur, krap in my laaie, my broeksakke. Betrap haar nou die dag wragtag met my foon in haar hande. 

Sy is op my, om my. Daar is nie plek vir my eie skaduwee nie. Kan steeds niks vir haarself doen nie. Elke dag is daar ‘n nuwe probleem wat ek moet hanteer.

“Klim vir Mamma op die dak en maak die geute skoon. Sny die gras vir Mamma. Gee Milo kos. Sit ‘n nuwe gloeilamp in”.

 “Mamma-mamma-mamma” asof ek vyf jaar oud is.

Gister moes ek die onkruid in die plaveisel wegtoor. Ek het op die internet gelees wat om te doen: Jik in ‘n spuitbotteltjie sou werk. Die Safyr Bleu-botteltjie met sy skerp tuitbekkie was perfek. 

Dis toe net so.

Die onkruid is weg. So ook my verblinde bewaker.

Previous Posts

No previous posts found.